2009/08/24

Uiteidelik weer bietjie nuus !

Sjoe Mamma het ons verloor op die Internet!

Daar het al soveel gebeur vandat Mamma laas geskryf het. Mia is nou in die groot klas by die kleuterskool en leer gedurig nuwe rympies wat dan baie ywerig opgesê word! Zelda is 'n regte klein kekkelbek! Sy praat soos 'n regte papegaaitjie agter Mia aan.

Nou moet ons eers bietjie ernstige nuus oordra - dit sal seker help om daaroor te gesels....
Ons hartjies is baie seer..... Ons liewe Oupa Joggie het Maandagaand 17/08/09 'n hartaanval gehad en is oorlede. Mamma huil nog baie daaroor, sy was baie naby aan Oupa. Hy was 'n liewe mens en ons gaan hom baie mis!

2008/04/10

Uiteindelik Wil Zelda Loop!

En so word alle kindertjies groot.....
Ons jongste het so 2 weke terug ernstig begin loop, nou is dit 'n groot speletjie. Dit het begin met 2 tree en is nou al op so 5 na 6 treetjies op 'n slag. Sy loop al in die gang af - lekker lang oefenplek vir daardie ywerige beentjies....

Arme Mia loop nou meer deur as ooit, Zelda is 'n regte terggees en "steel" als waarmee Mia haarself besig hou... Mia het begin stories lees uit haar biblioteek boeke - (ja sy is net 3 - mammagompie dink dis meer die geheue as enigeiets anders) ek is baie trots op my prinses want sy let so mooi op as mamma stories lees sy kan tot Lui Lieplapperleenlummel sê - ons het 'n storieboek met die storie in oor die kabouter wat als by almal leen en nie eens sy eie huis wil bou nie.... sy geniet dit vreeslik. 'n Storieboek bly maar 'n wenner vir die patat!

Hoop julle het almal 'n geweldige dag!

2008/03/25

Zelda se Verjaarsdag!


Hi almal


Skies ek vat solank om als op te dateer, maar uiteindelik is ek hier......


Zelda het 2 Maart al haar 1ste verjaarsdag gehad, ons het nie hierdie jaar regtig partytjie gehou nie. Haar neefie Damien het uit Frankryk uit hier kom kuier toe hou ons net 'n klein partytjie vir hulle Damien het die 1ste Maart 7 geword.
Heel links is Kilian, Die lang seuntjie is Damien, voor staan Mia, die lang dogtertjie is Elda, voor haar staan Tineke en ek is die fraaie meisie wat op die kant sit! Mamma het tot vir ons 'n springkasteel gereel sodat die groot kinders van al die baie energie kan ontslae raak!
Ek het oulike persentjies gekry en speel nog elke dag met almal.
Ek moet nou eers tatta se ons moet gaan regmaak vir skool....
Liefde vir jul almal!
Ons het net vir oom Wim wat ook vir tannie Lee hulle ken genooi.

2008/02/28

Mia se verjaarsdag!

Mia het in Januarie verjaar......


Hier is 'n paar fotos
Mia & Maatjies
Rudi, Tinus, Mia, Elda, Tineke. (Jandré was al klaar huis toe & Zelda het geslaap)


Mia met haar Fifi - aliceband......


Mia met haar Fifi magnete......





Uiteindelik terug!

Ek was so bietjie verdwaald het skoon van die blog vergeet. Kom ons kyk of ek nou bietjie meer getrou hierdie dagboek opdatum kan hou......

2007/09/05

Tannie Rina se troue!

Dagsê almal!

Ek het belowe almal sal my rokkie sien as tannie Rina en oom Rinus trou! Nou ja dit het Saterdag gebeur..... 1 September op lentedag - en ek dink tannie Rina het die mooiste gelyk!





Hierdie foto is geneem net nadat ons hare klaar gedoen is en ons ons mooi rokke aangetrek het! Het ons nie te pragtig gelyk nie?

Sodra ons meer fotos het sal ons dit op ons blog sit ons is baie trots op tannie Rina wat so mooi gelyk het!

2007/08/17

Eina Sus!

Vanoggend het Mia die grootste pakslae van haar lewe gekry!

Sy het Zelda se pinkie amper af gebyt! Ek was so geskok. Toe ek haar klaar pak gegee het, het ek gevra hoekom sy dit gedoen het.
Haar onskuldige antwoord :"Dit was nie ek nie - die tand (en sy wys so na haar tande) het Zellie gebyt".

Haar hart was baie seer omdat sy pak gekry het.... Dit was die eerste keer dat sy geniepsig was teenoor haar sussie.... Zelda het seker vir 'n uur gehuil! Die merk was duidelik vir omtrent 'n half uur....

Nog 'n dag met nog dinge!